Boodskap-1 van Jahwêh-Ishkur

 6 Aug 2010
 Ek was alleen tuis.

 Gisteraand ontvang ek toe 2 vêrdere boodskappe van Jeshua…sien elders.

  Toe maak ‘hulle’ my net na 2h00 wakker en vra dat ek aan Neutraliteitsboodskap nr 4 werk, wat nie klaar is nie, maklik gelyk het, maar blyk baie moeilik te wees om af te handel: ek het dit eers teruggejou en met nr 5 aangegaan.
  Net na 5h00 het ek tou opgegee. Moeg. Gaan slaap.
 
  Maar van gistermiddag laat af ruik ek by tye ‘n muwwe, vrotterige reuk, amper soos iemand wat lank laas gebad het
[1]. Gedurende die aand, tydens die ontvang van twee boodskappe, in my slaapkamer, het die reuk meer en sterker gekom. Toe ek vannag tik, in my kantoor, het die reuk by tye asof reg langs my opgeduik.
  Ek het besef dit is ‘n gees-entiteit wat met my wil kommunikeer, toe nooi ek dit uit om vrylik te praat. Maar niks gebeur nie. Toe ek moeg is, en die kantoor se lig afsit, so net na 5h15, toe kom die reuk baie sterk deur. Ek stop toe, in die donker, om te wys ek is nie vol vrees nie, vra toe die een om deur te kom, vrymoedig te wees, ek is nie bang of vol vrees nie. Ek klim toe in die bed, so net na 5h30, trek alles toe onder die duvet, toe begin dit praat.

  Dit is toe Ishkur, soos hy homself noem, Ishkur-Jahwêh van Israel, en die  periode van Moses en daarna. En ek spring op, daar hy baie vinnig oordra, ek gryp my skryfbord: hy babbel behoorlik; ek moes woes skryf. So tien handgeskrewe bladsye. Uiters indringend en baie interessant.

  Ek vra my kerkgebonde huishulp die volgende oggend, wat ‘n kamer naby die/my studeervenster het, of ek haar moet kom roep wanneer Ishkur, oom Jahwêh, weer by my besoek aflê. “Nee!” gil sy.
  “Hoekom?” vra ek, “hoekom nee?  
  “Ek is bang,” sê sy.
  Nouja, dat ons Wittes ons godevrees aan die Swartes oorgedra het. En vrees vernietig alles.
  Ek huil daaroor.
  Gegroet
  Aruan

Jahwêh-Ishkur praat!

Vrydagoggend baie vroeg.   6 Augustus 2010

  Nouja, ek is al gewoond aan ‘besoeke’/kontak van nie-liggaamlikes, so ek was nie senuagtig of bang nie. Ek het wie ook al in my teenwoordigheid is hardop welkom geheet…ek doen dit baie. Ek sê toe: “Kom sit,” en vra:
  “Is jy Ishkur
[2]?”
  Ek weet nie hoekom ek dit gevra het nie: dit het net soort van onwillekeurig uit my gekom.
  “Hoe weet jy dit?
  “Dis wat ek van jou af aanvoel.”
  “Is jy kwaad vir my
[3], Aruan?
  “Nee… Nee, beslis nie.“
  “Ek het my bes probeer onder omstandighede, Aruan.
  “Ek vermoed…e…weet dit.”
  “Maar nou is alles verby.
  “Hoe ver is dit verby?" vra ek.
  “Verder as wat jy dink.
  “Ag, vriend Ishkur, ek het baie kritiek al gelewer teenoor jou en jul Annunaki...”
  “Ja, Aruan, ek weet, en dit was en is jou reg, maar dit is water onder die brug.
  “Sê my, Vriend Ishkur, was dit die moeite werd?”
  “Hoe sal ons weet? Elkeen handel soos hy/sy goed dink en vertrou dit is die beste onder die omstandighede. Toe ek jonk was en ‘God-van-die-Berge’ geword het, was ek entoesiasties en sonder besondere bybedoelinge. Maar soos die jare verbygaan, kom ander faktore in spel, die mens raak toe al hanser, meer aanvallend en bevragend teenoor my en my soort, en vrees ons toe nie meer soveel nie; dan moes ek/ons plan maak, sterker optree, fermer, meer dreig en met vrees vul, meer van ons gevorderde tegnologie gebruik maak om die mense mak en neerbuigend teenoor ons te hou.
  En in die Midde-Ooste het alles nog redelik goed gegaan; maar toe het ek na Suid-Amerika verhuis
[4]...en daar was die vermagting van groot vertoon onder die mense…daar was immer baie goud en ander weelde in daardie kontinent beskikbaar. En ek het deel van hierdie oordadige weelde (opulance) geword, geswem in  uitermatige vertoon, en meer-en-meer met vrees en afdreiging my heerskappy/koningkryk moes beskerm. Die offer van mense...ook hul harte...was deel hiervan, en ‘n vergryp, maar ons kon soveel mense maak/produseer as wat ons wou: buisbabas, kunsmatige inseminasie, duplikasie van mense via kloning[5]; en al maar deur het ek met my geliefde ‘Israeliete’[6] in kontak gebly: tot ek verjaag is uit my koningkryk in Suid-Amerika.[7]
  Dit was vir my ‘n hartseer dag, maar daarna was ek dankbaar dat ek daar weg is. Ek was moeg vir die gedurige onrus, twis, bedreiginge en stryd onder mekaar. Ek is terug Nibiru toe, waar ek gewoon het tot onlangs toe – voor ek ook na ‘n ander lewensvorm toe oorgegaan het
[8].
  Aruan, wat ek jou wil sê is dat die God-idee steeds ‘n uitsonderlike nosie/idee/magsbron/magsidee is, alhoewel my soort, na aanleiding van die Boek-van-Ani,  en die insette van die gevoellose An-u, my pa, die idee misbruik het deur dit vir eie gewin in te gespan het…ons het die God-idee óns laat dien. Ons het ervare hierin geword, veral onder An-u se leiding en reuse begroting, asook deurdat hy die intelligente jonges van vroeg af aan hierdie en ander magsmanipulasiemetodes bekendgestel het; ja, ons Nibiruane het hierdeur die bestane rondom ons woonplek en onder ons beheer onderdanig gehou, hul minerale rykdomme vir onsself bekom, en dies meer.  En die aarde was deel van daarvan.
  Maar, nou is dit verby. Ek is nie God nie, was nooit God soos julle dit tans insien en aanvaar nie, en het nooit myself as Skepper/’Die Een’ (soos jy/jul dit nou noem) wou voorhou nie. Jy/julle moet asseblief onthou dat die mense van daardie tyd nog baar en ongeletterd was, hulle het leiding nodig gehad, wat nie in skrif oorgedra kon word nie; hulle kon in ieder geval nie lees nie; en hulle het leiding uiters nodig gehad. En ons Nibiruane kon hulle baie leiding gee, want ons kennis en vermoëns het toe al baie vêr gestrek –- in vele gevalle baie vêrder as waaroor julle tans nog beskik: ek noem net genetiese voortplanting as voorbeeld.

  Maar nou dat ons droombeheer en heersing oor julle op ‘n end is, en ons nie meer direk by die aarde betrokke is nie...nie meer kán wees nie..., wil ek aan jou/julle sê dat die idee van god en God en gode uitgedien is; dit is verby,  dinge van die verlede en beginmensera. Dit is tyd om aan te pas, nuwe sieninge en werklikhede as deel van julle op te neem, oor die grens van die Ou Aarde te stap, handevattend, die Nuwe Aarde binne, en dat julle as een Nuwe Mens sal word, dit beleef. En ek, Iskur/JWHH, gewese “God” van die Ou Testament van julle “Bybel”, sê aan jou/julle hierdie oorgang tot die nuwe era dra my goedkeuring weg; ek wil die mens en elke mens aanmoedig om toe te tree tot die marsjeer tot die Nuwe Era, handevattend, verdraagsaam, in liefde jeens mekaar; ook teenoor ons gewese oues/oudstes uit die ou tyd, wetende dat ek en my soort die mens hierdie nuwe vistas gun, dat dit ons seën dra, en dat ons ook van vêr af julle, waar moontlik, wil help, bydra tot jul vestiging in jul Nuwe Aarde as Nuwe Mense wat wel moontlik is deur die ‘gees’/telepatiese verbinding, soos nou tussen my en jou.
  Ja, ja, jaaa, ek gun dit vir julle…die mens…ek seën julle, ek staan saam met julle, ek hou simbolies jul hand, ek stap saam met julle na jul Nuwe Woonplek
[9]/Dimensie.
  Alle seën, Aruan, vir jou en jou mense , en laat ons van nou af mekaar ons tekortkominge vergewe.
  Ja, jy het my aangespreek, aangeroep, opgekommandeer en eintlik genooi tot hierdie besoek, gesprek en boodskap, toe jy na my bydrae in Israeliese geskiedenis as “wreed en kru”
[10] verwys het. En dit was so, maar dit was daardie tyd, lank gelede, wat water onder die brug is, verby; en is dit nou tyd dat daarvan afstand gedoen word, en dat julle mense nou handevattend die grens sal oorsteek tot die grootse, nuwe dispensasie, wat my en my soort se goedkeuring en seënwense dra, ook ons beste wense: ons sal in hart altyd saam met die mens wees, die mens en alle mense voorspoed wil laat beleef, lang lewens…ja, verlos van die ‘voëlkou’-hokking/beperking'[11], soos jy dit naam gegee het, en dit ernstig gekritiseer het. Ja, Aruan, ons steun jou versoek dat die mens uit die voëlkou van skeiding en gevangenis tussen ‘afgestorwe’ en in-aardse dimensie gees bevry sal word[12]: mag jy dit beleef dat die Nuwe Mens en jy vry in gees en fisiese lewe tot groot hoogtes sal vlieg, soos die dinamies-pragtige kondor voël.
  Vlieg, vlieg, ons nageslag, vlieg die wye heelal in; vlieg so vêr as wat julle kan kom; vlieg verby en uit alles wat julle tot nou toe geboei/teruggehou/betronk het. Vlieg julle dan nou vêrder as wat óns kon.
  Ons kan nie meer nie. Miskien kom help jy en andere óns hierdie keer – en wees asseblief sag met ons, Aruan/Julle, ons is nie so taai as wat ons en julle gedink het nie. Ja, Aruan/Julle, nou het óns – in ons tanse stand – rigters, profete, verlossers en padaanwysers nodig, en wie weet, miskien ook jou, Jeshua–Jesus, Boeddha Gautama, en andere. Ja, ja, kom help en lei julle óns hierdie keer.
  Ek groet jou/julle.
  EK seën jou/julle.
  Ook namens my soort, koning Enlil, broer Enki…ag, almal. Ook Marduk.
  Vaarwel vir eers, My Vriend."

 Vrydag 6-08-2010


[1] Ek het lugverfrisser gespuit, maar tog gewonder wat dit kon wees, Hier moet ek verduidelik dat sommige nie-liggaamlikes met my kontak maak tesame met ‘n reuk of kenmerk: so wys Hitler my altyd ‘n rooi blommetjie, sommige kom met ‘n roos geur, sommige met ‘n eienaardige, aangename reuk, en sommige met ‘n reuk wat ek as ‘die dood’ ervaar…so ‘n lyksreuk, wat duidelik versag word met ’n skerp reuk, wat deur die lykreuk in oorheersing dring, wat dit amper aangenaam maak, en tog nie grillerig nie. Hierdie reuk was anders: dit was ‘n sleg reuk….vir mý, natuurlik.

[2] Ishkur: In die Bybel bekend as Jahwêh. In lewe seun van koning An-u, van Nibiru. Hy het meesal indirek met die Israeliete gekontak. Omstreeks 552 vC het hy finaal uit Suid-Amerika en in kontak met die Israeliete verdwyn, en is daar nooit weer van hom gehoor nie. Wel nou kontak hy weer, nè?

[3] Of ek kwaad is vir Ishkur/Jahwêh: Ek was, in ‘n mate. Daar is baie dinge/gebeure/gesê in sy naam, wat baie kritiek by my uitgelok het tydens my bevragingsperiode: sien oa EK VRA NA God en God&gode. Maar dit is verby, Ishkur se God-koningskap, asook my bevraginge rondom hom. Ek meen ons albei het die grens oorgesteek tot bereidwilligheid tot en regmaak vir die nuwe aarde.

[4] Na Suid-Amerika verhuis: Ishkur het metterwoon na Suid-Amerika verhuis, waar groot godsryke ontstaan het. Hy was daar onder ander name bekend.

[5] Kloning: Vermenigvuldiging uit een lewensvorm/mens, deur bloot ‘n sel van die mens/lewensvorm te neem en dit dan te vermenigvuldig hoeveel ook al verlang. En dit is hoe die mens van vandag tot stand gekom het.

[6]Israeliete’: Hierdie is ‘n bepaalde groepsnaam. Daar was baie mens en volke in daardie tyd in die gebied, wat metterwoon en veel later die name gekry het wat ons vandag ken. Die ‘Israeliete’ hierin dui egter op beginlede/’n-groep van wat vandag as die Joodse nasie bekend staan. Die term "Israeliete" dui mi ‘n heel ruimer groepering aan, wat oor talle volke strek.

[7] Ishkur verjaag uit Suid-Amerika: Daar was hy oa bekend as die geveerde slanggod...verjaag 552 vC.

[8] Die oorgang van die Annunaki tot ‘n ander lewensvorm: hierdie is tans nog ‘n debatteerbare onderwerp. Toe An-u te sterwe kom...(ons jaar 2,000)...het hy, beweerdelik, ons nie-stoflike wêreld/’hemel’ wou kom oorneem…hy en sy groep was mos nog altyd in beheer van die/ons ‘hemel’, vandaar die opstandsgeskiedenis van ons nie-stoflike wêreld (sien "WAR IN HEAVEN", alhoewel die wars nou verby is, en ‘n nuwe dispensasie van ‘hemel’/4de dimensie, aarde en aardse mens/3de dimensie in proses/oorskakeling, waarin 'die hemel' in proses van 'afkom na die aarde toe' is, maw die ‘hemel’/Ander Kant/4de dimensie en aarde/3de dimensie sal een word en saam, as een, oorgaan tot die nuwe, 5de dimensie: hierdie proses is aan die gang en…so lyk dit my…sal vanaf einde 2012 die oorgaan in aanvang neem).
  An-u wou na sy afterwe met sy dominasie en beheer van die mens en ons Ander Kant/’hemel’ voortgaan; hy wou na sy afterwe net in ons Ander Kant kom oorneem (soos hy beplan het), maar hy is daarin gestuit. Hy kon nie beheer van ons ‘hemel’ neem nie. Hy is tyd gegun om reg te stel wat hy verbrou het. Toe hy dit nie doen nie (hy het maar weer met sy ou beheertruuks begin), is hy en sy volgelinge weggemaak tot ‘n andere/mindere lewensvorm…plankton in die diepsee. Sien, lewe is ewig en kan nie beëindig word nie; wel kan dit verminder word.
  Ek het egter hierin iets nog nie vir my duidelik nie nl is net An-u en sy ‘hemelse’ groep weggemaak? Of is al die Nibiruane, van Nibiru, also weggemaak? Ek weet nog nie. Miskien is daar ‘n leser wat my hierin kan help.  

[9] Nuwe woonplek/dimensie: Sien afdeling ONS NUWE TUISTE.

[10] Wreed en kru: Wel ek moes gaan kyk waar en in watter konteks ek dit geskryf het.

[11] Voëlkou’-hokking/beperking: eintlik kom dit nie van my nie. Op ‘n dag is die voëlkou idee, met skets en al, aan my in kontak/telepaties verduidelik nl dat die mens bepland deur die Annunaki in nie-stoflikheid/’gees’ en fisiese bestaan verdeel is. Dit kan ook gestel word as verdeeld tussen die 3de en 4de dimensie. Die plan en instelling was dat die mens vinnig en kort-kort aards te sterwe sou kom en dan in nie-stoflikheid/’gees’ na die afgesperde (gehokte!!!) Ander Kant sou gaan/verhuis/daar-kongregeer, waar die menslike nie-stoflikheid/’gees’ herprogrammeer (re-formatted) sou word, die mens se geheue van vorige lewens weggevee sou word…(steeds)…en dan met vars, nuwe liggaam terug sou kom aarde toe, om op aarde die Annunaki/gode te dien…as gerobotteerde slawe!
  Goed, die eras van slaaf wees is verby, en is ons in ‘n staat van limbo/afwagting tot verandering…al lankal.
  Let hier daarop dat deel van die gode/Annunaki se plan was om die mens in ‘n posisie te plaas waar hulle/mens die fisiese dood eenvoudig net aanvaar, in moedelose ontsag, en niks daaraan poog te doen nie, dit in uiterse pyn/weemoede/leed te aanvaar en daarby in te val, want dit/die-dood kom mos glo van “God” af. En hierop wil ek sê dat die beplande vroeë/herhalende/kort-kort dood nie deel van Ewigheid se afkoms vorm nie, nog is dit deel van die inherensie van ons nie-sterflike tipe lewe:
dit was en is misbruik deur ons kloon-voorouers, die Annunaki, wat toe al geweet het hoe om lewensvorme (hierin die mens) tot twee dimensies  te verdeel/hok/betronk en te verneder. Lagwekkend is dit dat die mens/ons hierdie opperste misbruik van ons lewe steeds gelate aanvaar…selfs hulle, die gode, steeds ook hierin bly aanvaar, loof en aanbid…dit is ‘n grap om van te huil.
  Dan wonder ek of die mens teen hierdie tyd in vanself staat is om die Annunaki en An-u se misbruik van ons lewe stop te sit. Gelukkig het ons/die-mens-se Ander Kant in die jongste tyd, en na An-u se afsterwe, in eenheid (all-is-one-in-all!) hierin besluit om daadwerklik iets daaraan te doen, en is ‘n proses van omkering van die misbruik van die mens aan die gang gesit, waarin die twee kante verdeling (die nie-stoflike voëlkou) van menslike lewe beëindig sal word en tot een te laat saamsmelt…in die Nuwe Aarde/Mens, die 5de Dimensie. En dit is wat nou aan’t gebeur is: die ‘hemel’/Ander Kant het reeds begin afkom aarde toe, en saam met die aarde en aardse mens is hulle van Ander Kant/'die hemel' op pad na 'die Nuwe Aarde', die 5de Dimensie.

[12] Dat die mens van die skeiding tussen afgestorwe en in-aardse-dimensie gees bevry sal word: Ja, hierdie aspek van ons lewes op aarde het ek as “uiters wreed” beskryf en gevra dat dit beëindig word. Die mens is in misleiding gelei en verplig om bevrageloos die mens-skeppers gode/Annunaki se sg ‘dood’ (fisiese sterfte) te aanvaar, asof dit maar is hoe ons lewensgang móés wees. In werklikheid is dit hoe die Annunaki ons in herskepping/manipulasie kom boks/vasmaak/betronk/gekou het, waarin ons in ‘n nimmereindigende gang van aardse sterfte en houplek (“hemel”/Ander Kant) vir herskepping (re-booting) vasgevang is; alles om die gode/Annunaki telkens met nuwe, fisiese liggame/lewes te kom dien…soos dit aan die begin was. Nou staan ons van hierdie wrede kom-en-gaan (vicious circle) bevry te word, in die Nuwe Aarde…ja, die Nuwe Mens sal nie meer daardie aaklige ‘dood’ van die Annunaki ervaar nie; dit sal drasties verander word in die Nuwe Aarde.

Byvoeging 15/9/2010: "Ishkur, vertel my assseblief wat van julle Nibiruane geword het? en ook hoe die god-idee by julle ontstaan het en as beheermiddel/tegniek van ander lewensvorme ontwikkel het." ...Aruan

6 Augustus 2010
Germiston
Suid-Afrika
Ishkur via en saam met
Aruan

Enigeen is welkom om kommentaar te lewer, per E-pos, na aruan@nuwemens.co.za

Gaan na volgende JaHWeH-2
Gaan na INHOUD-JaHWeH

Gaan na Indeks
Kontak